Tuisblad Oor ons Jaarprogram Lidmaatskap Biblioteek Kontak

We Speak English ... Wir Sprechen Deutsch ... Wij Spreken Nederlands

E-pos aan die Voorsitter

DOELWITTE

GRONDWET VAN DIE AFRIKAANSE FILATELIEVERENIGING VAN PRETORIA

Artikel 1 Naam

Die Afrikaanse Filatelievereniging van Pretoria (hierna verwys as die Vereniging)

Artikel 2 Voertaal

Die voertaal van die Vereniging is Afrikaans.

Artikel 3 Doelstellings

Die doelstellings van die Vereniging is om :

3.1 die studie en beoefening van filatelie deur lesings en die uitstal van versamelings te bevorder en aan te moedig, meer bepaald onder die Afrikaanssprekendes;

3.2 gereeld vergaderings te hou met die doel om diegene wat in een of ander aspek van filatelie belangstel, bymekaar te bring;

3.3 die belange van lede sover dit op hulle persoonlike versamelings betrekking het, te bevorder;

3.4 vervalsings en ander vorms van bedrog tov filatelie op te spoor en lede daarteen te waarsku;

3.5 junior versamelaars te help en aan te moedig, vernaamlik deur die stigting van junior afdelings in die Vereniging;

3.6 lede te help deur fasiliteite te verskaf vir die verkoop of koop van filateliese materiaal, byvoorbeeld deur die rondstuur van op sig-boekies, deur uitruil van posseëls, deur veilings of enige ander middel;

3.7 filateliese leesstof en apparaat vir die gebruik van lede aan te skaf;

3.8 enige diens te onderneem vir die bevordering van filatelie en die doelstellings van die Vereniging;

3.9 uitstallings te hou; en

3.10 met ander bestaande verenigings saam te werk ter bevordering van filatelie in die algemeen.

Artikel 4 Magte

Die Vereniging besit die reg om:

4.1 by enige plaaslike, nasionale of internasionale liggaam aan te sluit of te affilieer, mits so 'n stap deur 'n gewone meerderheid van die teenwoordige stemgeregtigde lede op 'n gewone algemene vergadering goedgekeur word;

4.2 aankope namens lede te doen;

4.3 reëls vir die beheer van uitstallings ern ander items onder Artikel 3 genoem, op te stel en uit te voer.

Artikel 5 Regspersoonlikheid

5.1 Die Vereniging is 'n liggaam met regspersoonlikheid sonder winsoogmerk en die inkomste en eiendom van die Vereniging, uit welke bron ook verkry, word uitsluitlik aangewend vir die bevordering van die doelstellings soos omskryf in Artikel 3.

5.2 Alle bates van die Vereniging moet in die naam van die Vereniging gehou of geregistreer word.

5.3 Die inkomste en eiendom van die Vereniging moet alleenlik aangewend word vir die bevordering van sy doelstellings en geen gedeelte van die inkomste mag aan enige lid of lede direk of indirek oorgedra word nie, met dien verstande dat niks wat hierin vervat is die betaling van bona fide vergoeding aan enige beampte van die Vereniging of aan 'n lid met die oog op enige diens wat in werklikheid aan die Vereniging gelewer is, verhoed nie.

5.4 Die Vereniging het die bevoegdheid om in sy eie naam te dagvaar of 'n aksie te verdedig. Die magtiging om geregtelike stappe in te stel of te verdedig moet onderteken word deur die Voorsitter en Sekretaris wat afsonderlik die bevoegdheid het om die Vereniging in al sodanige verrigtinge te verteenwoordig.

Artikel 6 Lidmaatskap

6.1 Lidmaatskap van die Vereniging, onderhewig aan die bepalings van hierdie Grondwet, is oop vir almal.

6.2 Kategorieë: Lede word in die volgende kategorieë verdeel:

  • 6.2.1. Gewone lede, wat die Verneniging as hulle tuisvereniging aanvaar en by die Filateliese Federasie van Suid-Afrika (FFSA) geaffilieer is. (die tydskrif van die Federasie deur die Vereniging ontvang)
  • 6.2.2. Gewone lede (Buitelede), wat lede van 'n ander filatelievereniging is en dit as hulle tuisvereniging aanvaar en via daardie vereniging by die FFSA geaffilieer is. (die tydskrif van die Federasie deur daardie vereniging ontvang.)
  • 6.2.3. Genote (Erelede) wat as (is) persone of liggame (wat) as gevolg van lang en waardevolle diens in belang van die Vereniging of van filatelie in die algemeen, by 'n algemene vergadering eenparig as Genoot (erelede) van die AFP verkies word; hierdie persoon het die reg om die letters GAFP agter sy/haar naam te skryf.
  • 6.2.4 Juniorlede, wat nog skoliere of bona fide studente is en wat nie stemgeregtig is nie, behalwe in hulle afdelings as dit tot stand sou kom.

6.3 Toelating tot lidmaatskap. Aansoek om lidmaatskap geskied deur 'n voorgeskrewe vorm te voltooi wat, vergesel van die voorgeskrewe lede(- en intree)geld, aan die Bestuur vir goedkeuring voorgelê word. Die Bestuur het die reg om, sonder verstrekking van redes, 'n aansoek te weier.

6.4 Beëindiging van lidmaatskap

  • 6.4.1 'n Lid kan sy lidmaatskap beëindig deur skriftelik daarvan kennis te gee.
  • 6.4.2. Die Bestuur het ook die reg om die bedanking van 'n lid te eis as sy optrede of gedrag teen die belang of doelstellings van die Vereniging indruis of tot nadeel van filatelie strek. As so 'n lid nie binne 14 dae self bedank nie, word hy as lid geskrap met dien verstande dat hy die reg het om binne 7 dae na kennisname van die opsegging van sy lidmaatskap, aansoek te doen om sy saak persoonlik vir heroorweging voor die Bestuur te lê. Die beslissing van die Bestuur is finaal.
  • 6.4.3. 'n Lid se lidmaatskap word beëindig indien hy, nadat hy daartoe gemaan is, nie sy ledegelde betaal het nie.

6.5 Hertoelating. 'n Persoon wat voorheen lid van die Vereniging was, mag om hertoelating aansoek doen. Dieselfde prosedure as met voornemende nuwe lede moet gevolg word.

Artikel 7 Finansies

7.1 Die finansiële jaar strek van 1 Januarie tot 31 Desember.

7.2 Die Bestuur stel jaarliks ledegelde vas. Genote (Erelede) word van die betaling van ledegelde vrygestel.

7.3 (Die Bestuur bepaal die intreegelde wat by aansluiting deur nuwe lede of heraansluiting deur voormalige lede betaalbaar is.) Die Vereniging betaal die affiliasiegeld van Genote by die FFSA.

7.4 Die Bestuur aanvaar verantwoordelikheid vir die bates van die Vereniging.

7.5 Die Bestuur open een of meer rekening(e) by 'n geregistreerde finansiële instelling. Tenminste twee handtekeninge word vereis om onttrekkings uit sodanige rekening(e) te maak.

7.6 Die Bestuur dra sorg dat die boeke van die Vereniging jaarliks geouditeer word. 'n Gewone vergadering wys 'n lid aan, wat nie in die Bestuur dien nie, om alle boeke en finansiële state van die Vereniging en sy sub-komitee(s) na te sien en by die Algemene Jaarvergadering verslag daaroor uit te bring.

Artikel 8 Bestuur

8.1 Die sake van die Vereniging word beheer deur 'n bestuur wat soos volg saamgestel word:

  • 8.1.1. Voorsitter.
  • 8.1.2. Ondervoorsitter.
  • 8.1.3. Sekretaris.
  • 8.1.4 Tesourier (Penningmeester.)
  • 8.1.5 Rondsenddienshoof.
  • 8.1.6. Redakteur Nuusbrief.
  • 8.1.7. 'n Maksimum van drie addisionele lede, soos deur die Bestuur aanbeveel en deur die Algemene Jaarvergadering vasgestel. Een Bestuurslid mag meer as een amp beklee, met die veronderstelling dat daar ten minste vyf betuurslede is.

8.2 Die Bestuur word jaarliks tydens die Algemene Jaarvergadering gekies.

8.3 Indien 'n ampsdraer gedurende sy ampstermyn bedank of om ander redes ophou om 'n lid van die Bestuur te wees, het die Bestuur die reg om die vakature vir die onverstreke tydperk te vul.

8.4 Die Bestuur het die reg om sub-komitees aan te stel.

8.5 Die Bestuur vergader so dikwels wat dit nodig is (hy dit nodig ag.)

8.6 Die helfte van die Bestuurslede plus een vorm 'n kworum. (Vier van die Bestuurslede plus een vorm 'n kworum.)

Artikel 9 Vergaderings

9.1 Gewone algemene vergaderings vind maandeliks plaas, behalwe in Desember.

9.2 Algemene Jaarvergaderings word een maal per jaar gehou op 'n tyd deur die Bestuur bepaal:

9.2.1 Tien lede vorm 'n kworum.

9.2.2. Die Bestuur moet tydens die Jaarvergadering 'n jaarverslag en finansiële verslag voorlê.

9.3 Spesiale Algemene Vergaderings moet belê word binne 14 dae na ontvangs van 'n skriftelike versoek aan die Bestuur en geteken deur minstens 10 lede. Die vergadering moet binne 'n redelike tyd daarna plaasvind. In die versoek moet die doel van die vergadering uiteengesit word en geen ander saak mag op so 'n vergadering behandel word nie.

Artikel 10 Huishoudelike Reëls

10.1 Die Bestuur stel huishoudelike reëls op vir sy vergaderings, werksaamhede en vir die komitees wat deur die Bestuur verkies of aangestel word.

10.2 Hierdie reëls mag nie in stryd met die bepalings van die Grondwet wees nie.

Artikel 11 Wysiging van Grondwet

Hierdie Grondwet kan alleen gewysig word deur 'n tweederde-meerderheid van lede wat op 'n Algemene Jaarvergadering of op 'n Spesiale Algemene Vergadering teenwoordig is.

Artikel 12 Ontbinding van die Vereniging

Indien die Vereniging ontbind word, word alle eventuele bates geskenk aan (gelyk tussen die volgende filateliese instellings verdeel: die Poskantoormuseum, die Filatelie-afdeling van die Kultuurhistoriese Museum en) die Filateliestigting van Suider-Afrika.

Hierdie Grondwet is op die Algemene Jaarvergadering, gehou op 22 Maart 2006, goedgekeur.

Copyright 2000 - 2010 deur AFP
Hosting by Sulaco New Media
Maintained by L D Erasmus